Brief-golf tref Mbeki
’n Dag voor pres. Thabo Mbeki se staatsrede het ’n stroom van tussen 20 en 30 briewe oor misdaad elke minuut in sy e-pos-legger beland via die vakbond Solidariteit se teenmisdaad-webblad.
Teen vroeg gisteraand was daar al 8 000 boodskappe.
Solidariteit het dié webblad,
www.dearpresident.co.za, eergister opgestel nadat Eerste Nasionale Bank (ENB) se briewe-teen-misdaad-veldtog verlede week op omstrede wyse geskrap is.
Sakelui en sakekamers het gister beklemtoon dat die veldtog teen misdaad deur die regering gedryf moet word terwyl opposisie- en sakeleiers Mbeki aangemoedig het om sterk standpunt teen misdaad in sy staatsrede in te neem.
Die meeste sakelui was lugtig om hul volle steun aan ENB se uitgestelde teen-misdaadaksie te gee.
Hulle koester egter groot verwagtings van Mbeki se staatsrede met die parlementsopening môre.
Mnr. Raymond Ackerman, voorsitter van Pick ’n Pay, het gesê hy is baie gretig om Mbeki se staatsrede te hoor: “Ek glo ons president moet mense gerusstel, nie oor die misdaadkwessie nie, maar (oor) wat aan misdaad gedoen gaan word. ’n Sterk plan moet gegee word oor hoe misdaad beheer gaan word.
“Ons wil ’n sterker benadering sien.
“Jan Publiek is desperaat om van die regering te hoor wat oor misdaad gedoen gaan word,” het hy gesê.
Ackerman glo enige maatskappy of persoon het die onvervreembare reg in ’n demokrasie, om óf die regering te prys óf oor die regering te kla. “Ek stem saam (met ENB) dat iets gedoen moet word,” het hy gesê. ( Volledige berig in Sake-Beeld.)
Mnr. Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier, het gesê Mbeki moet in sy staatsrede “ ’n ondubbelsinnige bekentenis gee dat misdaad buite beheer is en dat die polisie gaan optree teen oortreders”.
Me. Patricia de Lille, OD-leier, het gesê Mbeki moet leierskap toon oor hoe probleme soos misdaad, armoede, korrupsie om die wapenskandaal, korrupsie in die algemeen en die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 hanteer moet word.
“Ons hoop die president gaan aankondig dat hy ’n nasionale misdaadberaad wil byeenroep waar verteenwoordigers van alle sektore ’n omvattende strategie kan saamstel om misdaad stop te sit,” het sy bygevoeg.
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, het gevra vir ’n ondubbelsinnige presidensiële verklaring om die voorkoms van geweldmisdaad te beperk en om misdaad te bekamp.
“Pres. Mbeki moet kennis neem dat die meerderheid van die Suid-Afrikaanse publiek van hom verskil wanneer hy dit stel dat misdaad nie buite beheer is nie.
“Die publiek voel onveilig in hul eie huise,” meen hy.
Teen vroeg gisteraand het sowat 8 000 mense reeds e-pos aan die president gestuur en talle het hul ervaring van misdaad openhartig gedeel.
Volgens mnr. Jaco Kleynhans, wat Solidariteit se e-pos-projek hanteer, het sowat een uit tien mense vertel van hul eie ervarings en daar is ook heelwat voorstelle wat in die briewe aan die president gemaak word.
Mnr. Dirk Herman, woordvoerder van Solidariteit, het dié vloed e-pos as ’n “ongelooflike sukses” beskryf.
“Ons is opgewonde oor die reaksie.
“Mense van alle rasse het gereageer en die verhouding tussen e-pos in Afrikaans en Engels is sowat 50/50.”